Wekom by die
Griekwaland-Wes Vuurpylvereniging
Webblad
English

           
Die Griekwaland-Wes Vuurpylvereniging bestaan uit ‘n  groepie amateurvuurpyl-entoesiaste. Die lede eksperimenteer met die ontwerp en bou van verskeie soorte amateurvuurpyle en vuurpylmotors op ‘n veilige en verantwoordelike manier. Junior lede begin met die bou van tipe A-vuurpyle en word as senior lede geag met die lanseer van ‘n tipe H-vuurpyl. Senior lede wat klas 1 status bereik affilieer as lede van SAASA . Die Griekwaland-Wes Vuurpylvereniging poog tans om minstens elke ses tot agt weke ‘n lanseerdag te hou.

Die vuurpyle, gemaak van papier, hout en glasvesel is toegerus met ‘n herwinnings toestel. Op ligte vuurpyle word ‘n  lang stuk lint gebruik, maar die groter modelle is toegerus met valskerms. Die motor word wel van metaal gemaak. Vir veiligheids redes word lede nie toegelaat om metaal in die konstruksie van die res van die vuurpyl te gebruik nie. Streng reëls in die bou en ontwerp word toegepas, daar word byvoorbeeld geen  gevaarlike/plofbare vrag toegelaat in die vuurpyle nie. ( Jammer Rambo )

 

Hierdie is nie “ guy-fox rockets ” nie,  hier is geen imposante lug flitse of vlieënde sterretjies nie, net brute krag. Die vuurpyl word herwin, die motor word nagegaan, herlaai en siedaar reg vir ‘n volgende vlug. Lede word geensins toegelaat om vuurpyle met “vuurhoutjies en stukkies lont” te lanseer nie. Daar word gebruik gemaak van ‘n afstand beheerde ontstekings toestel met streng veiligheids afstande en veiligheids maatreëls.

Die mikpunt is om te kyk wie die hoogste kan vlieg in ‘n gegewe klas, ‘n vlug tel as suksesvol wanneer die vuurpyl heel en veilig terug is op moeder aarde. Heel beteken die vuurpyl moet na herwinning in so ‘n toestand wees dat dit onmiddellik weer veilig kan lanseer na herlaai van die motor.

Behalwe vir die vragruim in die vuurpyl wat die valskerm berg is daar ook ‘n vragruim wat elektroniese toerusting dra wat onder andere die ontplooiing van die valskerm beheer en die hoogte en  versnelling van die vuurpyl kan meet.

Seker ‘n duur stokperdjie sou mens kon sê: nee, nie noodwendig nie. Die eenvoudigste vuurpyle word met ‘n paar velle papier en ‘n bietjie houtlym gebou. Baie interessant is die stokperdjie wel. Hier kan al daardie lekker wiskunde ‘n plekkie kry om te help verseker dat die vuurpyl stabiel sal vlieg. Om ‘n veilige vlug te verseker word die verhouding tussen die aërodinamiese drukpunt  en swaartepunt van die vuurpyl behoorlik voor ‘n lansering toegelaat word bepaal en reggestel indien nodig.

En die brandstof? Gewone suiker of epoksi  en salpeter. Volgens fyn afgemete maat en spesiale resepte natuurlik. Seker die belangrikste deel van die motor ontwerp is die uitlaat. Hier word met verskillende deursnee uitlate en kegels  geëksperimenteer. Nou ja, as jy lus het vir ‘n stokperdjie waar jy met jou hande en jou kop moet kan werk, dan is hierdie een vir jou.

 Vir meer besonderhede kontak ons gerus

                                                                                                                                                                                                                

Foto's           Projekte

Die inligting op hier die webblad is slegs vir ontspanningsdoeleindes. Die eienaar van  die webblad aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of beserings as gevolg van inligting beskikbaar gestel op hier die webblad nie.
Kopiereg voorbehou © 2009 GWVV